By NG Weltevreden probeer ons om doelbewus te lewe vir die stad. Om te lewe vir die stad is om ons hele lewensritmes in Johannesburg aan God op te dra. In Weltevredenpark en Randburg, Sandton en die middestad. Die bergfietspaadjies en die taxi roetes. Die piekniek plekke en die gevaarlike dele. Die braaipit by die swembad en die vergaderlokaal by die werk. Orals kry die liefde van God ’n vatplek in ons lewens.
Verskilmakers video
Verskilmakers video
Wat beteken dit om te lewe vir die stad?
Wanneer ons sê dat ons lewe vir die stad, praat ons nie net van die mense wat in die middestad of in Sandton werk en bly nie. Nee, ek en jy is die stad. Ons gemeente en sy lede is die stad. Ons vriende en ons geliefdes is die stad. Die mense in ons woonbuurte is die stad. Ons vier waardes is die boustene vir ons visie Lewe vir die Stad:
Om deernis aan ’n ander mens te bewys is ’n voorreg so oud soos die lewe self. Geen mens is volledig sonder die geleentheid om ’n ander lief te hê nie. Ons word aan die einde van ons lewens gemeet aan die sagtheid van ons harte, die beskikbaarheid van ons tyd en ons genade teenoor ’n ander mens se weerloosheid. Deernis en nederigheid loop hand aan hand. Nederige dankbaarheid dra deernis, dit dek die tafel vir 'n manier van omgee wat nie arrogant is of uit die hoogte kom nie, maar vanuit die wete dat elke mens met gebrokenheid leef. Ons herinner mekaar daaraan dat om deernis aan 'n weerlose mens, dier of die natuur te bewys, ons nodig het om die weerloosheid van ons eie menswees te omhels. God bewys deernis aan ons, daarom kan ons nie anders as om met deernis te leef nie.
|
’n Gesonde geloofsgemeenskap kan vergelyk word met ’n groot uitgebreide familie. Die tendens in kerke soos NG Weltevreden in die onlangse verlede was om die verskillende generasies apart te hou. Tieners sou in hulle “grot” bymekaar kom terwyl die ouers “bo” in die kerk aanbid. Ons probeer hierdie taal die afgelope paar jaar doelbewus verander. Terwyl daar steeds ruimtes is waar ouers, tieners, kinders en kleuters op unieke ouderdomsgebaseerde maniere bymekaarkom, hoop ons om meer geleenthede kan skep waar ’n kind saam met sy ouer kan aanbid. Wanneer ons by NG Weltevreden dink oor families, dan herinner ons mekaar daaraan dat dit insluitend moet wees. Mense sonder kinders is ook ’n familie. Enkellopendes is ook ’n familie. Gesinne lyk lankal nie meer soos die tydskrifprentjies van die jare 80’s en 90’s nie. Ons hoop is dat die evangelie by NG Weltevreden sal vlamvat oor die grense heen van al die unieke lewensfases wat so eie is aan die lewe hier in die stad.
|
In ’n stad waar die mure al hoe hoër raak en die lewe al hoe vinniger, loop ons die risiko om verby mekaar en dan veral verby die vreemdeling te leef. Gasvryheid is vir duisende jare al ’n kernwaarde van enige geloofsreis. Dit is ’n universele geloofsdissipline wat oor kulture en grense heen hoog aangeslaan word. Vir Christene is hierdie waarde eie aan Jesus se openbaring van wie God is. God is die groot gasheer. Dit eggo in Psalm 23 en vind vatplek in die groot opoffering wat God deur Sy Seun se doodse lyding gemaak het. Die waarde van ’n gemeente se geloof word getoets aan die wyse waarop ons dié wat anders is, selfs vyandig is, behandel. By NG Weltevreden hoop ons dat elkeen waarlik welkom sal voel.
|
Die groot kopskuif wat die Christelike geloof mense help maak is dat dit moontlik is om ’n diep vriendskap met God te kan hê. Christus het sy vriende daarmee gehelp. Ons is nie God se slawe nie; ons is God se vriende. Hierdie merkwaardige ontdekking spoel oor in die manier waarop gelowiges teenoor mekaar leef – as vriende en nie as vreemdes nie. Die evangelie se heelmaakkrag vind vatplek in ons lewens in die vorm van hegte lewensbande. Meer dikwels werk die Heilige Gees deur die sagte woorde van ’n goeie vriend as deur die vele woorde van ’n prediker. By NG Weltevreden probeer ons op kreatiewe maniere veilige ruimtes te skep waar vreemdelinge vriende kan word.
|